Inique die sangduo uit die hartjie van die Boland! Gebore in die Paarl en geswot op Stellenbosch, die twee susters Inge en Martinique sing al voordat hulle hul eerste woorde kon sê.

In 2004 was hulle in die Top 20 van die gewilde Zing2 – Sangkompetisie op KYKNET.  Bo en behalwe Zing was albei betrokke by die Burger Plussterre kompetisie in die Oos-Kaap.

In 2005 eindig hulle 2de as Beste Kunstenaar en 3e in die Beste liedjie kategorie in die VOALIM (is ‘n vereniging wat die skep van oorspronklike Afrikaanse ligtemusiek bevorder) Top 20 in Port Elizabeth.

 Vandat hulle besluit het om musiek hul lewe te maak het hulle al die verhoog gedeel met verskeie bekende kunstenaars soos die Idols wenner van 2003 Anke en die naaswenner Potseletso, Thys die Bosveldklong, Kurt Darren, Zak van Niekerk, Cheree,Wicus van der Merwe, Arno Jordaan, Andre Swiegers, “Die Manne” (Martin Kernekamp, Desmond Wells en Pieter Naude) konsert, Nianell en die dinamiese rockgroep Ghapi.

 Met hulle eerste KKNK het hulle nie minder as 20 optredes gehad nie. Sedertdien het hulle dagboek al hoe voller geraak.  Hulle tree gereeld op by feeste, soos Gariep, Aardklop ens. ,vermaaklikheids verhoë, korporatiewe funksies, troues, fondsinsamelingsprojekte asook Die Burger BayFM  verjaarsdag OPSKOP  in 2005 en 2006.

 Inique se debuut CD “Nou” is by die KKNK 2006 vrygestel.  Dit bevat luistergenot van hulle eie oorspronklike Afrikaanse komposisies. Inique is bekend daarvoor dat hulle ‘n “inique” styl gee aan reeds bekende liedjies.  Hul musiek word gereeld op BayFM, Mfm(MatieFM), Radio Kudu in Windhoek, Radio Pretoria, Radio Rosestad , Radio Panorama, Radio Laeveld, Radio Kragbron, Radio Lichtenberg, Overvaal Stereo, Uitsaaines en ook in Nederland gespeel. Kom kyk gerus as hierdie borrelende persoonlikhede in jul dorp optree!!

'n Ware voorreg is wanneer jy die geleentheid kry om die CD-vrystellingsaand van twee pure kunstenaars soos Inique te kan bywoon. Met die onlangse vrystelling van hulle CD, NOU, by die Diazklub in Newton Park, Port Elizabeth het hierdie twee meisies nuwe meetwaarde gegee aan die terme stylvolheid en smaak.

Met die intrapslag was dit 'n hoendervleis-ervaring om die dekor in die saal in te drink. Geen steen is onaangeroer gelaat om dit absoluut elegant te laat lyk nie. Dit skep die indruk dat hierdie dames werklik erns het met hulle musiek - vergelyk maar die vaal oninteressante vrystellingsaande van selfs sommige hoofstroomkunstenaars met wat mens hier kon sien. Dit was 'n fyn spel tussen liggies, musiekinstrumente uit draad vervaardig, kerse, tafeldoeke en draperings, en 'n gedrapeerde verhoog met die beelde van die hoofsterre van die aand inge-ets op baniere en kunstig op en langs die verhoog uitgestal. Ai, niks kom darem by stylvolheid nie!

 Inique bestaan uit twee meisies, Inge en Martinique, wat hulle gesamentlike sangloopbaan ernstig begin opneem het toe hulle baie suksesvol aan Kyknet se Zing 2-kompetisie deelgeneem het in 2004. In hierdie landwye kompetisie het hulle onder die Top 20 geëindig! 

Hulle musiek is uniek. Hulle het 'n absolute eie styl en hulle verwerkings van selfs bekende melodieë verteenwoordig 'n varsheid wat lankal weer nodig is in die bedryf. Hulle het nie sommer net, soos die neiging deesdae is, al hulle musiek laat "stamp" met moderne techno-maatslae nie, maar dit ingekleur met musikaliteit, vokale eksperimentering en hulle kunstige vroulikheid daarin gemanifesteer. Kortom: Heerlike luistergenot van Jan Alleman sowel as die fynproewer!

Wat ook indrukwekkend is, is dat bo- en behalwe die deksnitte wat hulle opgeneem het van onder andere Stef Kruger/Dozi (Maybe my Baby) en Mark E Nevin (Perfect) en hulle  uitstekende eie komposisies, het hulle ook een liedjie van 'n opkomende liedjieskrywer, Waldo Snyman van Port Elizabeth, ingesluit op die CD. Die liedjie, Mense van die Bo-Karoo, het weer 'n heel ander styl as die ander musiek op die CD en is verrassend suksesvol verwerk.

 Wat is die beste snitte op die CD? As mens kyk na die liedjies wat die meeste deur radiostasies (BAY FM,Matie FM, Radio Kudu in Windhoek, Radio Pretoria, Radio Rosestad , Radio Panorama, Radio Laeveld, Radio Kragbron, Radio Lichtenberg, overvaal Stereo  en die Uitsaaines) gespeel word, is Roller Coaster Ride baie gewild. Elke liedjie het die potensiaal om 'n treffer te word. Daar moet egter  gladnie afbreuk gedoen word aan die pragtige stukkie werk wat in die algemeen gedoen is deur hierdie twee dames op hulle CD, NOU, nie. Maar as mens 'n kersie aansteek en 'n rooiwyn laat rondbol in 'n blink glas met die kers se vlam wat speel-speel op die glaswand teen die agtergrond van die rooiheid daarbinne, is daar darem niks so lekker as om rustig te luister na "Ek het jou nooit vergeet" nie. En dit doen mens terwyl jy jou verlustig aan die kunstige omslag van die CD.

As hierdie meisies oor 30 jaar terugkyk na hierdie punt in hulle lewe sal ons hopelik almal daar wees om hande te klap, te juig oor 'n wonderlike begin van pure styl en 'n musikaliteit wat nuwe horisonne te voorskyn laat kom het.

RAAR MAAR WAAR ... kitsfeite oor inique ►►